Vind ons

Ons is geleë op die hoek van Atterbury en Ajax straat, Olympus in Pretoria Oos.

Krdinate: -25.8143989, 28.3370161

 

Dienstye

Sondae oggende: 09:00,  Sondae aande: 18:00

16 Desember: Geloftediens 08:00

25 Desember: Kersdiens 08:00

31 Desember: Oujaarsdiens 18:00

Geen aanddienste 15, 22 en 29 Desember

EG Kerk Pretoria Oos
EG Kerk Pretoria Oos
Gedagte vir die dag
Teksvers: Romeine 7:15 “Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek.”

Hierdie belydenis kom waarlikwaar uit die mond van die geliefde apostel Paulus! Moontlik sal elke eerlike kind van God op ’n dag hierdie punt in sy / haar lewe bereik. “Ek het dit sowaar weer ’n keer gesê … ek het dit weer gedoen! En ek haat dit!”

’n Kind van God wat herstelwerk by ’n fabriek gaan doen het, en ook met drie manne kon gesels oor Christenskap, was verbaas toe sy werk voltooi was en hy sy gereedskap oppak, dat die drie manne hom voorgekeer en gevra het om met hom te gesels. Een man het begin deur te sê: “Ek is vir baie jare ’n Christen, maar ek is gedurig besig om die verkeerde dinge te sê en dinge te doen wat ek in myself verafsku. Raak God nie moeg vir my nie?” Die ander twee manne het nader gestaan om te hoor wat sy antwoord sou wees.

Dié Christen het in stilte gebid om wysheid en toe vir hulle die Skrifgedeelte in Romeine 7 gelees waarin Paulus dieselfde uitroep maak en Paulus het bygevoeg: “… Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” (vers 24). En dan skryf Paulus in vers 25: “Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!”

Jesus het nie ons sondes aan die kruis gedra, dié wat na Hom toe kom vir vergifnis en redding, gered en ons dan gelos om die slaaf van die “sonde wat in my woon” (Romeine 7:17b) te bly nie. DIT sou slawerny wees.

Wanneer iemand gered word, kom woon die Heilige Gees binne-in die hart van dié verloste sondaar en die Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. Daar bestaan dan twee begeertes in my hart: 1) Om ’n lewe te lei wat God behaag en 2) om ander na Christus te lei. Hierdie weergebore kind van God ervaar ook God se blydskap en vrede in sy / haar siel en hy getuig oral waar hy kom, van die groot werk wat God aan sy / haar siel gedoen het.

Ons het egter met ’n gedugte vyand te doen wat alles in sy vermoë doen om ons van God se pad af te lei en subtiel ons te laat verswak in ons geloof en om sondes in ons harte toe te laat, en dan verloor ons ons vrymoedigheid en die stryd wat in Romeine 7 beskryf word begin sterk na vore kom. Is daar ’n oplossing? Is daar bevryding? Ja verseker!

Die vraag kom: “As God voorsiening gemaak het dat die mens van sy sondeskuld vergifnis kon ontvang het, het Hy dan nie in Sy verlossingsplan ook voorsiening gemaak om die mens in ’n staat te stel waar hy ’n lewe kan lei wat God welgevallig en aangenaam is nie?

Johannes 10:10 “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.” Met ander woorde dat hulle kan oorloop van lewe. Dawid sê in Psalm 23:5: “My beker loop oor.”

Om in oorwinning te lewe moet jou hart gereinig word. Net soos by wedergeboorte, MOET die kind van God by die kruis kom kniel en ALLE bewuste sonde in sy hart teenoor ander moet bely word. Die hart moet leeggemaak word by die kruis. Hierdie is nie ’n saak wat ligtelik hanteer moet word nie. Dit is ’n hartsbesluit en keuse tussen die volheid van God of oorvloedige lewe en oorwinning in Hom en die DOOD van die begeerte om sonde te doen. Hierdie Christen moet bereid wees om te bid: “Here, reinig my hart dieper as wat sonde in my hart en lewe gekom het. Reinig my volkome van die BEGEERTE na sonde.”

Dan kom die oorgawe, VOLKOME oorgawe, algehele oorgawe aan God. “Nie meer my wil nie, HERE, net U wil alleen vir my lewe!” Dag na dag is ek gewillig om IN Sy wil te lewe. Soms sluit dié oorgawe in dat iemand restitusie moet doen teenoor iemand anders.

En dan kom die wonderlike deel: “Vul my HERE met U Heilige Gees, elke deel en hoekie van my hart.” VOLKOME oorgawe.

Dan sal u getuig: “Vir my is die lewe Christus en die sterwe (aan myself) wins.

Kan u weer sondig? Ja, beslis. Maar dié sonde moet onmiddellik bely word, sodra die Heilige Gees u oortuig, en “die bloed van Jesus Christus, Sy Seun reinig ons van alle sonde.” (1 Johannes 1:9 en ook 1 Johannes 2:1). Jesus is ons Advokaat / Voorspraak wanneer ons dan weer gesondig het. Die stryd teen die aanvalle van die vyand sal duur totdat hy, die duiwel, in die hel gewerp is.

Sterkte en seëninge.
(geskryf deur Yvonne Slabber)
EG Kerk Pretoria Oos
EG Kerk Pretoria Oos
Gedagte vir die dag
Teksvers: Psalm 18:7 “Toe ek (Dawid) benoud was, het ek die HERE aangeroep, en ek het tot my God geroep om hulp; Hy het my stem uit sy paleis gehoor, en my hulpgeroep voor sy aangesig het in sy ore gekom.”

Jong mammas skakel dikwels hulle eie Mamma wanneer ’n nuwe baba ’n skielike uitslag op die vel het of ’n skielike hoesie ontwikkel.

Dawid het egter gelewe voordat telefone bestaan het. Hy kon nie sy pa skakel en benoud vra: “Pappa, wat moet ek doen?” nie. Dawid het vroeg in sy lewe geleer om na God toe te vlug, toe leeus die vee bedreig het, Goliat op die toneel verskyn het en met elke probleem wat sy pad gekruis het, het Dawid na God toe gevlug, selfs toe hy koning geword het.

Dawid kon getuig in Psalm 18:2 & 3 “… Ek het U hartlik lief, HERE, my sterkte. Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting.” Wat meer kon ’n koning begeer om te besit? Wanneer God aan jou / my kant is, hoef ons niks te vrees nie. Vandag nog reik ons makliker uit na ons foon vir hulp inplaas daarvan om reguit na God te gaan vir raad en bystand. Verseker plaas die Here mense op ons pad om ons te help met raad en fisiese hulp, maar ons moenie nalaat om te bid nie. God het nog nooit iemand verkeerd gelei nie.

Wanneer ons na God toe gaan, in gebed, kan ons ook saam met Dawid die Here prys. Vers 7: “Toe ek benoud was, het ek die HERE aangeroep, en ek het tot my God geroep om hulp; Hy het my stem uit sy paleis gehoor, en my hulpgeroep voor sy aangesig het in sy ore gekom.”

Volgende keer wanneer jy / ek ons hand uitsteek na ons foon, onthou dan om eers te bid tot Hom wat alle wysheid besit.

God seën u.
(geskryf deur Yvonne Slabber)