Vind ons

Ons is geleë op die hoek van Atterbury en Ajax straat, Olympus in Pretoria Oos.

Krdinate: -25.8143989, 28.3370161

Dienstye

Sondae oggende: 09:00,  Sondae aande: 18:00

Spesiale dienste:

Goeie Vrydag: 08:00

16 Desember: Geloftediens 08:00

25 Desember: Kersdiens 08:00

31 Desember: Oujaarsdiens 18:00

EG Kerk Pretoria Oos
EG Kerk Pretoria Oos
Gedagte vir die dag

Teksvers: 1 Thessalonicense 4:1 “Verder dan, broeders, vra en vermaan ons julle in die Here Jesus dat julle, soos julle van ons geleer het hoe julle moet wandel en God behaag, nog oorvloediger mag wees.”
2020 Vertaling: “Verder dan, broers, vra ons julle, en spoor ons julle ter wille van die Here Jesus aan: Julle is deur ons onderrig oor hoe julle moet leef om God te behaag; julle leef inderdaad reeds hiervolgens, maar julle moet nog al hoe meer so leef.”

’n Trotse moeder vertel dat haar seun baie lief is om te lees. Wanneer hy meer boeke lees as wat deur die skool voorgeskryf word, ontvang hy ’n prestasie sertifikaat. Dit spoor hom aan om nog meer te lees.

In sy brief aan die Thessalonicense motiveer Paulus die gelowiges, nie met ’n toekenning nie, maar met woorde van aanmoediging. Hy skryf (1 Thessalonicense 4:1) “... soos julle van ons geleer het hoe julle moet wandel en God behaag, nog oorvloediger mag wees.” ’n Ander vertaling lui: “Lê julle daarop toe ...” Die Christene van Thessalonika het volgens God se wil gelewe en Hom met hulle lewens vereer, daarom moedig Paulus hulle aan om aan te hou en nog meer vir Hom te lewe – “nog oorvloediger mag wees.”

Ons elkeen gee vandag moontlik ons allerbeste om ons Vader te ken, Hom te behaag en lief te hê. Laat ons daarom Paulus se woorde ter harte neem as aansporing om dapper in geloof te groei en dan voort te gaan om Hom te eer op ons daaglikse geloofspad.

Is daar miskien iemand wat jy met Paulus se woorde van bemoediging kan bemoedig? Kom daar nou iemand in jou gedagtes op? Ons is dikwels getrou om die swakkes te bemoedig en aan te spoor om nie moedeloos te word nie, maar om vas te hou en sy/haar oë op Jesus te vestig. Maar vandag vra ek u om iemand wat voluit vir Hom lewe aan te moedig om vol te hou en selfs oorvloediger heilig (afgesonder vir Jesus) te bly en aan te hou lewe. Skryf vandag ’n boodskappie op jou foon of skakel dié persoon en bemoedig hom of haar – moontlik deur ’n gepaste teksvers uit die Woord. Wie weet, miskien het hy of sy net vandat dié woord van bemoediging nodig.

Deur iemand vandag aan te moedig om vol te hou op die pad kan jy moontlik soos Aäron en Hur wees wat Moses se hande omhoog gehou het. U bemoediging sal kosbaar wees in Christus se oë.

Seëninge.
(Geskryf deur Yvonne Slabber)
EG Kerk Pretoria Oos
EG Kerk Pretoria Oos
Gedagte vir die dag.

Teksvers: Hebreërs 4:16 “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”

Gedurende 2009 het ’n passasiersvliegtuig in New York se Hudson rivier beland. Die loods, wat die noodlanding veilig en sonder ’n enkele ongeval uitgevoer het, is later uitgevra oor daardie oomblikke in die lug toe hy met ’n kritieke lewens besluit gekonfronteer is. Hy het geantwoord: “’n Mens kan só daarna kyk. Ek het oor die afgelope 42 jaar klein maar gereelde deposito’s in die bank van ervaring, onderrig en opleiding belê. Op daardie spesifieke dag was die balans groot genoeg sodat ek ’n baie groot onttrekking kon maak.”

Elke mens sal die een of ander tyd met ’n krisis te doen kry. Miskien kom dit as gevolg van ’n aflegging by die werk, die uitslae van mediese toetse of die dood van ’n geliefde. Dit is in tye soos hierdie dat ons diep in die reserwes van ons geestelike bankrekening van geloof sal moet delf. Wat gaan u en ek daar kry wanneer ’n krisis kom? Sal ons ’n diepgewortelde verhouding van geloof en vertroue vind in God ons Vader en in Jesus? Sal ons kan terugkyk na tye toe ons na God gevlug het in ’n noodsituasie, siekte of watter probleem daar ook al was? Elke keer wanneer ons na Hom toe vlug en Hy ons deurdra en ons Hom eer, maak ons ’n definitiewe deposito in ons geestelike Geloof-bank. Getuienisse uit ons verlede, dra vandag krag om ons aan te moedig om God vir die onmoontlike te vertrou omdat ons in die verlede Sy genade gesmaak en ervaar het.

2 Korinthiërs 8:9 “Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.”

Efésiërs 2:4 – 8 “Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus — uit genade is julle gered — en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus. Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God.”

Wat ’n wonderlike, ryke geestelike balans!

Ons hou ook vas aan die Bybelse belofte dat God getrou is om Sy Woord te volbring. Hebreërs 4:16 ““Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”

Mag u hierdie kosbare Woord en belofte uit Sy Woord as deposito in u geestelike bankrekening deponeer want om Sy Woord en belofte van die verlede te onthou, versterk ons vir die toekoms.

Seëninge.
(Geskryf deur Yvonne Slabber)